Masai Mara Nasionale Park
Masai Mara, ook soms Maasai Mara gespel en plaaslik bekend as The Mara, is 'n groot nasionale wildreservaat in Narok County, Kenia, aaneenlopend met die Serengeti Nasionale Park in Tanzanië. Dit word so genoem ter ere van die Masai-mense,[1] die voorvaderlike inwoners van die gebied, wat vanaf die Nylkom na die gebied gemigreer het. Hulle beskrywing van die area as daar van ver af gekyk word: "Mara" beteken "gevlek" in die plaaslike Masai-taal, vanweë die kort bosagtige bome wat die landskap stippel. s Masai Mara is een van die wildbewarings- en wildernisgebiede in Afrika, met sy bevolkings van leeus, luiperds, jagluiperds en Afrika-bosolifante. Dit huisves ook die Groot Migrasie, wat dit verseker het as een van die Sewe Natuurlike Wonders van Afrika, en as een van die tien Wonders van die Wêreld.
Die Groot Migrasie vind gewoonlik vanaf Julie plaas, afhangende van die weer, aangesien die wildebeeste in groot getalle beweeg om die Mararivier vanuit Tanzanië oor te steek.
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Toe Maasai Mara oorspronklik in 1961 as 'n wildreservaat gevestig is,[2] het dit slegs 520 km² van die huidige gebied beslaan, insluitend die Mara-driehoek. Die gebied is in 1961 na die ooste uitgebrei om 1821 km² te beslaan en in 'n wildreservaat omskep. Die Narok County Council het in hierdie tyd die bestuur van die reservaat oorgeneem.[2] 'n Deel van die reservaat het in 1974 Nasionale Reservaatstatus gekry,[3] en die oorblywende oppervlakte van 159 km² is aan plaaslike gemeenskappe terugbesorg. 'n Bykomende 162 km² is in 1976 uit die reservaat verwyder, en die park is in 1984 tot 1510 km² verminder.
Die Masaivolk bestaan uit 'n gemeenskap wat oor die noordelike, sentrale en suidelike Kenia en noordelike dele van Tanzanië versprei is. Die Masai maak staat op hul landerye om hul beeste te onderhou, sowel as hulself en hul gesinne. Voor die reservaat se stigting was die Masai gedwing om uit hul geboorteland te trek. Sommige hiervan was weens pokke-uitbrale onder die mense sowel as runderpes onder die beeste.[2]
Geografie
[wysig | wysig bron]

Die totale oppervlakte onder bewaring in die Groter Maasai Mara-ekosisteem beslaan byna 1 510 km²
Dit is die mees noordelike deel van die Mara-Serengeti-ekostelsel,[1] wat ongeveer 25 000 ha in Tanzanië en Kenia beslaan.[3] Masai pastorale plase is in die noorde, ooste en weste.[3] In die suide is die Serengeti Park, die Siria/Oloololo platorand is na die weste. Die Mararivier, saam met sy sytakke die Sand- en Talekriviere, is die belangrikste riviere wat die reservaat dreineer.[3] Struike en bome groei langs die meeste dreineringslyne en bedek ook die heuwels.[3]
Die terrein van die reservaat is hoofsaaklik oop grasveld met seisoenale rivierstrome. In die suidoostelike streek is klompe van die kenmerkende akasiaboom. Die westelike grens is die Esoit Siria Platorand van die Oos-Afrikaanse Skeur, wat 'n stelsel van skeure is van sowat 5600 km lank, wat vanaf Ethiopië se Rooi See deur Kenia, Tanzanië, Malawi tot in Mosambiek strek. Wild is geneig om die meeste hier te konsentreer, aangesien die moerasagtige grond beteken dat toegang tot water altyd voldoende is, terwyl toeriste-ontwrigting minimaal is. Die mees oostelike grens is 224 km vanaf Nairobi, dus is dit die oostelike streke wat die meeste deur toeriste besoek word.
Wildlewe
[wysig | wysig bron]Blouwildebeeste is die dominante bewoners van die Masai Mara.[1] Jaarliks rondom Julie migreer hierdie diere noordwaarts uit die Serengeti-vlaktes op soek na vars weiding, en keer omstreeks Oktober terug na die suide. Die Groot Migrasie is een van die indrukwekkendste natuurgebeure wêreldwyd.[3] Dit behels sowat 1 300 000 blouwildebeeste, 500 000 Thomson se gaselle, 97 000 topi, 18 000 elande en 200 000 Grant se sebras.
Al die lede van die "Groot vyf" – leeus, luiperds, buffels, olifante en swartrenosters – kan heeljaar hier gevind word.
Die Maasai Mara is die enigste beskermde gebied in Kenia met 'n inheemse swartrenosterbevolking wat nie deur verplasing geraak word nie.[4] Weens sy grootte kan die Mara een van die grootste bevolkings in Afrika onderhou. Die bevolking van swartrenosters was taamlik talryk tot 1960, maar dit is erg uitgeput deur stropery in die 1970's en vroeë 1980's, toe die spesie tot 'n laagtepunt van 15 individue gedaal het.[4]
Seekoeie en Nylkrokodille word in groot groepe in die Mara- en Talek-riviere aangetref. Die vlaktes tussen die Mararivier en die Platorand is waarskynlik die beste area vir wildbesigtiging, veral wat leeus en jagluiperds betref.
Groot karnivore word in die reservaat aangetref. Leeus is die mees dominante en word hier in groot getalle aangetref.[1] Gevlekte hiënas is nog 'n volop karnivoor, en sal dikwels met leeus om kos meeding. Luiperds word oral in die reservaat aangetref waar daar bome is waarheen hulle kan ontsnap. Die Oos-Afrikaanse jagluiperd word ook in groot getalle op die oop savanne aangetref, hulle maak jag op gaselle en wildebeeste. Afrika-wildehonde is redelik skaars hier as gevolg van die wydverspreide oordrag van siektes soos hondesiekte en die hewige kompetisie wat hulle in die gesig staar met leeus, wat dikwels hul troppe uitroei. Hul pakke dwaal en reis ook ver deur die vlaktes, wat dit moeilik maak om hulle op te spoor. Kleiner karnivore wat nie direk met laasgenoemde meeding nie, sluit in Afrika-wolwe, silwerrugjakkalse, Afrika-gestreepte wesels, rooikatte, tierboskatte, ratels, aardwolwe, Afrikasivette vaalboskatte, systreepjakkalse, bakoorjakkalse, stinkmuishond, verskeie spesies muishonde en groototters.
Wildsbokke wat hier gevind word, sluit in Grant se gaselle, rooibokke, gewone duikers en Coke se hartbees. Die vlaktes is ook die tuiste van die kenmerkende Masai-kameelperd. Die groot bastergemsbok[1] en die nagtelike bakoorjakkals, wat selde elders in Kenia voorkom, kan binne die reservaat gesien word.
Die gebied is deur BirdLife International as 'n belangrike voëlgebied aangewys.[5] Meer as 500 spesies voëls is reeds in die park geïdentifiseer,[5] waarvan baie trekvoëls is, met byna 60 spesies wat roofvoëls is. Dit is 'n belangrike gebied vir die bedreigde voëls wat hulle vir ten minste 'n deel van die jaar in hierdie gebied tuismaak. Dit sluit in: aasvoëls, maraboe-ooievaars, sekretarisvoëls, neushoringvoëls, kroonkraanvoëls, volstruise, langkuifarende, Afrika-dwergvalke en die gewone troupant, wat die nasionale voël van Kenia is. Die inwonende breëkoparend is bedreig.
Administrasie
[wysig | wysig bron]Teen 2023 bestuur Mara Conservancy die Mara-driehoek namens die county, terwyl die distriksregering van Narok die Narok-sektor bestuur.[3] Die meer besoekte oostelike deel van die park, bekend as die Maasai Mara Nasionale Reservaat, word deur die Narok County Council bestuur. Die Mara-driehoek in die westelike deel word sedert die vroeë 2000's namens die land bestuur deur Mara Conservancy.[6][2]
Die randgebiede is deur plase van die Masai-gemeenskap geadministreer. Die grond is toe onderverdeel, hoewel sommige lede groter voordele as die meerderheid grondeienaars ontvang het.[7] Hierdie verswakte reguleringstelsel bedreig volhoubare bestuur van die Mara.[7]
Navorsing
[wysig | wysig bron]Die Maasai Mara is 'n belangrike navorsingsentrum vir die gevlekte hiëna. Met twee veldkantore in die Mara, bestudeer die Kay E. Holekamp-laboratorium in Michigan State University die gedrag en fisiologie van hierdie roofdier, asook vergelykingsstudies tussen groot roofdiere in die Mara-driehoek en hul eweknieë in die oostelike deel van die Mara.
’n Vloeibepaling en oorgrens-rivierkombestuursplan tussen Kenia en Tanzanië is voltooi vir die rivier om die ekostelsel en die basiese behoeftes van 1 miljoen mense wat van sy water afhanklik is, te onderhou.[8]
Die Mara-roofdierbewaringsprogram werk ook in die Masai Mara en katalogiseer en monitor leeubevolkings regdeur die streek.[9] Die projek konsentreer op die noordelike bewarea waar gemeenskappe saam met natuurlewe bestaan, en poog om bevolkingstendense en reaksies op veranderinge in grondbestuur, menslike nedersettings, veebewegings en toerisme te identifiseer.
Sedert Oktober 2012 het die Mara-Meru Jagluiperdprojek[10] in die Mara gewerk om die jagluiperdbevolking te moniteer, bevolkingstatus en dinamika te skat, en die roofdierimpak en menslike aktiwiteit op jagluiperdgedrag en oorlewing te evalueer. Die hoof van die Projek, Elena Chelysheva, het in 2001–2002 gewerk as Assistent Navorser by die Kenia Wildlife Service (KWS) Maasai-Mara Cheetah Conservation Project. Op daardie tydstip het sy 'n oorspronklike metode van jagluiperd-identifikasie ontwikkel gebaseer op visuele ontleding van die unieke vlekpatrone op voorste ledemate (van tone tot skouer) en agterste ledemate (van tone tot die heup), en kolle en ringe op die stert.[11] Met fotografiese data, wat oor die jare ingesamel is, kan die projekspan 'n verwantskap tussen generasies opspoor en die Mara-jagluiperd-stamboom opbou. Die data wat ingesamel is, help om ouerverwantskap tussen individue, oorlewingsyfer van welpies, jagluiperdleeftyd en persoonlike voortplantingsgeskiedenis te openbaar.
Die veerkragtigheid van die wildtuinmodel en die impak van die Covid-pandemie is ook geëvalueer om oorweging van kwessies van gelykheid en omgewingsbewustheid in te sluit.[12]
Bedreigings
[wysig | wysig bron]Tussen 1989 en 2003 is hoefdiere maandeliks in die Masai Mara gemonitor; die opname het 'n afname van kameelperde met 75%, van vlakvarke met 80%, van hartbeeste met 76% en van rooibokke met 67% getoon, toegeskryf aan die verhoogde aantal lewende hawe (vee) wat in die park wei en 'n toename in stropery.[13]
Die opkoms van plaaslike bevolkings in gebiede wat aan die reservaat grens, het gelei tot die stigting van bewaringsorganisasies soos die Mara Olifantprojek. Die projek het ten doel om die vreedsame en voorspoedige naasbestaan van mense in kontak met wild te verseker. Volgens die projek word menslike wildkonflik as 'n leidende bedreiging vir die reservaat beskou, aangesien die menslike bevolking aanhou groei.[14] Toerisme het eksponensieel toegeneem. Minder as 10 boskampe het in die laat 1970's in die gebied geopereer,[7] maar nadat die moratorium op ontwikkeling verslap is, het toeristefasiliteite tot 140 gestyg in 2008, en byna 200 in 2016.[7]
Die groei in bevolking skep 'n vraag na grond en hulpbronne wat lei tot onbeplande infrastruktuurgroei.[7] Die swak kontantekonomie skep 'n behoefte om die afgeleë plaasgebiede verder onder te verdeel. Hierdie nuwe eienaars het tradisionele weivelde in landerye omgeskakel, wat wildmigrasie negatief beïnvloed het.[7] 'n Toename in heinings vererger die beperking in vrye beweging vir migrasie,[15] en weidingbeskikbaarheid word ook belemmer.[7]
Die Mara-bewarea moedig bewaringspogings in die reservaat aan en het verskeie van hul doelwitte bereik sedert hulle rentmeesterskap ontvang het. Volgens hul webwerf het hulle sedert 2022 4 500 stropers gearresteer, 100 000 honde teen hondsdolheid en hondesiekte ingeënt, toegangspaaie verbeter en sekuriteit vir die plaaslike gemeenskap en toeristefasiliteite verskaf.[16]
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ 1,0 1,1 1,2 1,3 1,4 "Masai Mara National Park". Global Alliance of National Parks. Besoek op 28 April 2024.
- ↑ 2,0 2,1 2,2 2,3 Trillo, Richard (Mei 2016). "The Rough Guide to Kenya". Rough Guides Ltd. Besoek op 28 April 2024.
- ↑ 3,0 3,1 3,2 3,3 3,4 3,5 3,6 "Maasai Mara Game Reserve". UNESCO. Besoek op 28 April 2024.
- ↑ 4,0 4,1 "Black Rhino". Mara Conservancy (in Engels (VSA)). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 April 2020. Besoek op 7 April 2020.
- ↑ 5,0 5,1 "Masai Mara". BirdLife International. Besoek op 28 April 2024.
- ↑ "The Story of the Mara Triangle". Angama (in Engels). 14 Februarie 2017. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Augustus 2020. Besoek op 4 Mei 2020.
- ↑ 7,0 7,1 7,2 7,3 7,4 7,5 7,6 "The Greater Mara Ecosystem". Maasai Mara Wildlife Conservancies Association (in Engels (VSA)). 21 Mei 2017. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Augustus 2020. Besoek op 4 Mei 2020.
- ↑ McClain, M.E.; Subalusky, A.L.; Anderson, E.P.; Dessu, S.B.; Melesse, A.M.; Ndomba, P.M.; Mtamba, J.O.; Tamatamah, R.A.; Mligo, C. (2014). "Comparing flow regime, channel hydraulics, and biological communities to infer flow–ecology relationships in the Mara River of Kenya and Tanzania". Hydrological Sciences Journal. 59 (3−4): 801−819. doi:10.1080/02626667.2013.853121. S2CID 129652372.
- ↑ "Mara Predator Project". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Maart 2012. Besoek op 1 Februarie 2012.
- ↑ "Mara Meru Cheetah Project". marameru.org (in Engels (VSA)). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 Desember 2017. Besoek op 22 Desember 2017.
- ↑ "Cat News #41, 2004". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 Desember 2011. Besoek op 23 Maart 2014.
- ↑ Shreya Chakrabarti The sensitivity of the Maasai Mara Conservancy Model to external shocks (2021) https://uu.diva-portal.org/smash/record.jsf?pid=diva2%3A1567539&dswid=-2405 Retrieved 30 September 2021
- ↑ Ogutu, J. O.; Piepho, H. P.; Dublin, H. T.; Bhola, N.; Reid, R. S. (2009). "Dynamics of Mara-Serengeti ungulates in relation to land use changes". Journal of Zoology. 278 (1): 1–14. doi:10.1111/j.1469-7998.2008.00536.x.
- ↑ "Our Mission". Mara Elelphant Project. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Augustus 2019. Besoek op 12 Augustus 2019.
- ↑ "March 2020". Mara Conservancy (in Engels (VSA)). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 Maart 2023. Besoek op 4 Mei 2020.
- ↑ "What We Do". Mara Conservancy. Besoek op 28 April 2024.